Lees Psalm 4:9.
Nou sal ek onbesorg gaan lê … (v 9).
Die evangelie is ’n slaaptydstorie. ’n Blye boodskap wat Godskinders vas laat slaap. Hoor Psalm 4 se digter se uitroep terwyl hy gaap: Nag, almal! Goeienag, liewe Here!
Hoe nou? sal die verontwaardiges straks gil. Die Bybel roep ons dan op om wakker te wees, want die duiwel loop rond soos ’n brullende leeu! En ons sing van altyd af: Ontwaak jy wat slaap en staan op uit die dood! Die Bybel is geen susmiddel nie, dit is ’n wekroep om ons uit ’n valse gerustheid te ruk!
Wag, wag. Hokaai maar eers met die uitroeptekens. Dit is alles waar, niemand wil hierteen stry nie. Maar hê tog ’n bietjie respek vir die digter van Psalm 4, die man wat gesoebat het dat die Here hom hoor. Kom, dit is die minste wat ons kan doen. Kom ons luister na hom.
Hoor opnuut sy noodroep, sy aanspraak op die Here se aandag. Vra jou af of jy ook besef dat die Here sy kinders met wonderwerke seën. Kortom, kritikus: Glo jy in ’n God wat hoor as jy roep? Vertrou jy Hom met jou lewe, nou en in die toekoms? Sê jy dankie, by voorbaat én nabaat, vir die oorvloedige vreugde wat Hy aan jou gee, selfs meer as wat hulle ervaar wie se tafel oorloop? En, vir oulaas, antwoord tog dié vraag: Bid jy ooit om sy beskerming voordat jy saans aan die slaap raak?
Is dit alles van jou waar? Dan is die psalmdigter dit met jou eens. Ontspan! Julle praat dieselfde taal. Nou kan jy ook onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak.
Is dit nou nie ’n goeie slaaptydstorie nie? Toe, stry? Lekker slaap! Nag, almal.
En ek sê ook: Goeienag, liewe Here! U alleen laat my veilig woon.
Barend Vos