Lees 1 Johannes 3:1.
Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook (v 1).
Hulle hoef nie éérs ’n toets te skryf of ’n eksamen te slaag nie. Hulle hoef geen gebod of gebed te bemeester ten einde te kwalifiseer nie. Daar word nie onderhoude gevoer om vas te stel wie geskik is om sy Naam te dra nie. En niemand het ’n laaste sê of ’n vetoreg nie, daar is geen deurwag voor die poorte nie. Hulle kan maar ingaan. Hy, die Enigste wat hieroor besluit, noem sy Seun se navolgers sy kinders.
Glo dit maar, sê Johannes. Dit is soos dit is met God en ons. Hy is ook ons Vader, soos Hy Jesus s’n is. Soos Jesus, is ons ook sy kinders.
En, sê Johannes uit die staanspoor sodat daar geen ruimte vir misverstand is nie, dit is die gevolg van sy liefde. Of, om presies te wees, sy “groot liefde”.
Dit is nou nie asof dit wêreldnuus is nie. Nie destyds nie, en deesdae selfs nog minder. God se bestaan, sy skeppingsmagtigheid en sy alomteenwoordigheid word nie in alle kringe ewe ernstig opgeneem nie. Sy kinders moet daarom ook nie verwag dat hulle hul dae op goue troontjies en op glansverhoë gaan deurbring nie. Inteendeel, hulle is meermale maklike teikens vir spotters.
Maar hulle kan soggens met vreugde opstaan, hul dae-vol-uitdagings in liefde en vrede deurbring, en saans getroos gaan slaap. Hulle weet verseker dat hulle aan die Here van lewe en dood behoort.
Wié in hierdie siniese, gebroke wêreld kan dit sê? Net God se liefdeskinders, hulle vir wie Hy op hul naam roep.
Ek is u s’n, Heer, ek het u stem gehoor. En ek dra dankbaar en trots u Naam.
Barend Vos