Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Geen ander naam

Lees Handelinge 4:5-12.

“Deur watter krag en in wie se naam het julle dit gedoen?” (v 7).

Dit blyk dat die Jode toe nie van Jesus ontslae geraak het nie. Sy aantal volgelinge neem eenvoudig toe. Elke dag word hulle meer en meer.

Dit vra nogmaals vir ’n noodvergadering van die Joodse gods­dienstige elite. Hoeveel keer het hulle nie al moes koppe byme­kaarsit oor dié irritasie nie! En nou moet hulle hulle afvra: Hoe gebeur dit dat dit steeds voortgaan? Het ons dan nie van die laspos ontslae geraak nie? Watse stories oor wondergenesings en nuwe bekeerlinge loop dan nou nog rond?

Die apostels moet voor hulle verskyn, kom rekenskap gee: Wie gee julle die reg? Waar kry julle die krag?

Petrus, eens die grootmond wat nooit lekker kon begryp wan­neer hy wát moes sê of nie sê nie, kom op die been. Met oortuiging en met ’n nuwe asem spreek hy die hoëlui toe en sê: Ons het ’n siek man gesond gemaak – en julle is nie bly nie. Ons het dit in die Naam gedoen van Een wat deur julle vermoor is en wat deur God uit die dood opgewek is – en julle glo dit nie. Ons bou bloot op die hoeksteen wat deur julle weggesmyt is.

En, voeg hy by, daar is geen ander naam waardeur God verlos­sing bring nie. Julle het Hom verneder; God het Hom verhoog. Só lyk die krag van God.

Só lyk jul beperkings, grootmenere! Julle dink dat julle oor almal en alles ’n sê het. Julle mors jul asem. Julle oorskry jul be­voegdheid, oorskat jul krag. Daar is maar een Naam – en dit is nie julle s’n nie.

Here Jesus, ook ek dra met trots en dankbaarheid u Naam. U krag is ook myne.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.