Lees Johannes 10:11-15.
“Ek ken my skape, en my skape ken My” (v 14).
Vir dié wat dit nog nie weet nie, bevestig Jesus hier sy verhouding met sy volgelinge. En Hy doen dit in ’n taal wat hulle almal verstaan, onder meer omdat hulle almal Psalm 23 ken.
Net om seker te maak hulle weet waar hulle met Hom staan, vergelyk Hy die goeie herder se siening van sy skape met dié van ’n huurling. Daar is geen vergelyking nie, sê Hy. ’n Huurling voel niks vir die skape nie. Hy vat die pad as daar moeilikheid kom en los hulle net so. Dan vaar die wolwe onder die weerlose troppie in, verskeur en verwoes en verjaag.
Met Hom is dit nie so nie. Hy ken sy skape, Hy het hulle trouens so lief dat Hy vir hulle in die bres tree. Dat Hy selfs sy lewe vir hulle sal gee.
Hulle ken Hom, sê Hy. Hulle weet wat hulle aan Hom het. Hulle weet hulle is Syne.
Dit is die grondslag van die verhouding tussen die goeie herder en sy dikwels minder goeie skape. Ja, hulle dwaal soms weg, hulle verset hulle teen die herder, hulle kruip graag onder die draad deur – maar hulle weet altyd wie is die baas.
Hulle ken die stem wat roep, wat soek. Hulle skaam hulle omdat hulle Hom bekommerd gelaat het en omdat Hy soveel moeite moes doen om hulle te kom opspoor en uit te haal. Maar hulle laat hulle optel en terugdra na die groen weiveld en die water waar daar vrede is. Daar waar hul goeie herder die laaste woord het. Die goeie woord.
Ek ken u stem, Here, Herder. En ek dank U dat U my pleitende, roepende stem ook ken.
Barend Vos