Lees Johannes 10:16-18.
“Ek moet hulle ook lei” (v 16).
Maar wag, daar is nóg! Nóg skape, en in ’n ander kraal. En hulle is ook Syne.
Is dit nou nie ’n interessante mededeling nie. Ja, en dalk onthutsend vir diegene in die bekende trop wat so graag praat van ons Herder. Dié wat maklik vinger en vuis wys en sê: Hulle!
Ek is ook hul Herder, sê Jesus.
Geen twyfel hieroor nie: Daar is nóg ’n kraal (krale?) waar Jesus ook die goeie herder is. Daar is skape wat nie soos ons lyk nie, nie soos ons is nie en nie op dieselfde manier as ons blêr nie. Hulle dwaal ook soms af en kruip onder die draad deur en loop weg. Ook hulle word deur hul goeie herder gaan soek, geroep, en na die trop teruggebring.
Jesus sou later vir Filippus sê: “Wie My sien, sien die Vader” (Joh 14:9). Dit is die einste Vader van wie Hy ook sê Hy het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun daarvoor gegee het. Die wêreld. Die hele, wye, veelkleurige, meerstemmige wêreld. Nie bloot ons ou klompie wat mekaar opsweep en warm broei en knus koester en vet voer en terselfdertyd kleindorps beskinder en beveg en verrinneweer nie.
Aartjie na sy Vaartjie, dié Jesus. Met sy oog op méér as wat ons sou reken, en ’n hart veel ruimer as wat ons ons kan indink. Met arms so oop soos ’n hemelse waenhuisdeur en ’n sagte, allesdeurdringende stem wat roep: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is …” (Matt 11:28). Almal. Álmal.
Here Jesus, hier is ek ook! Dankie dat ook ek by almal getel word.
Barend Vos