Lees Psalm 22:25-32.
Die nageslag sal Hom dien, en hulle sal van die Here vertel aan die volgende geslag (v 31).
Hoe sal ons kinders weet van die goeie God? En hul kinders se kinders? Eenvoudig, sal jy sê: Hulle sal dit by ons hoor. Dit is tog logies: Die getuienis aan ons nageslag oor God se goedheid begin by ons.
Eintlik is dit nóg eenvoudiger, nóg logieser, sê dié psalmdigter: Die verhale oor God se goedheid begin … by God se goedheid. By Hom wat hulpeloses se nood nie geringskat nie, wat hul hulpgeroep hoor. Hy wat die armes voed.
Dit laat die ontvangers van al die goedheid geen keuse nie – hulle moet daaroor praat. As dié loflied boonop “in die volle vergadering” (v 26) gesing kan word, des te beter. Al daardie beloftes wat destyds in die diepste nood gemaak is, die “Here as U my help, sal ek van nou af …”-beloftes, sal voor almal nagekom word. Hulle sal dit sien en beleef en hulle sal huis toe gaan en vir al wat leef en beef daarvan vertel.
Só sal die boodskap versprei, en gelowiges en ongelowiges en arm en ryk en ál die kinders sal dit hoor: God is goed!
Uiteindelik is dit die enigste erflating wat werklik saak maak, wat teen mot en roes en inbrekers en inflasie en markskommeling en magsug en die beheptheid met eie eer bestand is: Ons woorde wat aan ons dade gelyk is. Wat net een boodskap dra: Kyk hoe goed is God! Kyk net wat het Hy gedoen!
Ek bid vir my kinders, Here. En vir die boodskap wat ek aan hulle oordra. Leer my om my woorde te tel, en rig my dade tot u eer en tot hul heil.
Barend Vos