Lees 1 Johannes 4:7-10.
Werklike liefde is dit: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het (v 10).
Gelowiges smous graag met hierdie woord – liefde. Soms roem hulle daarop; dikwels voel hulle vaagweg skuldig vanweë hul gebrek daaraan.
Meestal beleef ons, die gelowiges, dit bloot as ’n wollerige begrip, een van dié waaruit daar ’n menigte ontsnappingsmoontlikhede en waarvoor daar ’n duisternis uitsluitingsklousules is. Ek het hom/ haar/hulle lief, sê ons dan, maar … En selfs: Ek weet ek moet hom/ haar/hulle liefhê, maar …
Dit is die een emosie wat ons uitvoerig sal verduidelik, veral as ons ’n sigbare gebrek daaraan het. Ons sal dinge sê soos: Die Here verwag darem sekerlik nie van my om hom/haar/hulle ook lief te hê nie. Soms is ons brutaal en uitdagend in ons liefdeloosheid wanneer ons sê: Die Here moet my maar vergewe (of straf), maar ek kán hom/haar/hulle eenvoudig nie liefhê nie.
Deurentyd maak ons óns idee van die liefde die norm. Ryg ons óns derms uit, ongevraag, vir almal om te sien, of hulle nou wil of nie.
Johannes weerlê al ons argumente wanneer hy sê God se liefde vir óns is die norm. By implikasie, dus: Ons liefde is nooit regtig liefde nie; God se liefde is die eintlike liefde. Dit is hierdie liefde wat ons van ons kammaliefde reinig. Aan ons die nuwe moontlikheid bied om as versoende mense met mekaar te kan saamleef. Dalk selfs vir mekaar lief te word, regtig lief, sonder voorwaardes.
Here, dikwels hinder my liefdeloosheid my nie meer nie. Pla my met u liefde, asseblief!
Barend Vos