Lees 1 Johannes 4:11-16.
Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons (v 12).
Jesus het op ’n keer aan sy dissipel Filippus gesê: “Wie My sien, sien die Vader” (Joh 14:9). Van hier kom onder meer ook gelowiges se troostende sêding onder mekaar: Jesus het God se gesig vir ons kom wys.
Dit was vir die dissipels sekerlik ’n enorme troos, dit is nou nadat hulle eers hul verbystering oorkom het. Vir mense wat as Jode grootgeword het, Ou-Testamentiese gelowiges, was dit immers ononderhandelbaar: Niemand het God nog ooit gesien nie. Jy kan nie God sien en bly leef nie (Eks 33:20). In die Nuwe Testament sou ’n Evangelieskrywer dit alles bevestig (Joh 1:18).
Maar vir ons, post-Nuwe Testament, is dit ’n uitgemaakte saak, maklik om te glo: Jesus en die Vader is één. Wat Jesus doen, is wat die Vader doen. God se wil is om Jesus ontwil. Daarop sê ons amen, hartlik en dankbaar.
Maar ons, die hedendaagse gelowiges, het egter dié agterstand: Ons het ook nie vir Jesus gesien nie. Die Kinderbybelprentjies is, wel, vir kinders. Ons vra steeds, want ons het geen idee nie: Hoe lyk God?
In hierdie klein liefdesbrief waaruit ons lees, stel Johannes die volgende voor: Kyk goed na haar (na hom, na hulle) wat jou liefhet. In hulle sien jy vir God. En, omgekeer: Wanneer hulle wat jy liefhet na jou kyk, sien hulle vir God.
Goeie genade, kan dit wees! Sonder twyfel, sê Johannes. Ons het sy Gees ontvang, en Hy is God-in-ons. Ek, ék, is God se gesig, waar ek ook al gaan.
Ag, Here, U kon mos ’n ander, beter keuse gemaak het as ék! U het toe nié …
Barend Vos