Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Ons God …

Lees Handelinge 10:44-48.

“Hierdie mense het net soos ons die Heilige Gees ontvang” (v 47).

Dit is moeilik begrypbaar dat God se mense se hart en hande destyds so tóé was wanneer hulle oor Hom gedink het. Óns God, sê hulle – en dan is daar ’n harde, eksklusiewe, uitsluitende klank in daardie ons. Dít word reeds ook in die Evangelies gefluister, maar in die Handelingeverhaal kom dit tot uitbarsting.

Hiér word die gelowiges se sondige geslotenheid ontbloot. Dit sou uiteindelik op die groot kerkvergadering in Handelinge 15 uitloop, waar die ou sakie amptelik uitgeklaar sou word. En dit ten spyte daarvan dat die boodskap ook in hierdie stukkie storie helder en duidelik is: Daar is geen hindernis hemel toe vir mense wat in Christus glo nie. Niemand durf ’n struikelblok in hul pad plaas nie. Daar is geen toelatingseksamen, geen proeftydperk, geen voorwaardes nie.

Ag, die ou Jode tog … dink ons soms. Hoe kan hulle so stik­sienig wees. So onoortuigbaar en so verbete klouend aan hul sie­nings, hul eng nasionalisme. Hulle is kamma verbaas oor God se ruim hart, terwyl hulle hul status as Jesusvolgelinge juis aan sy insluitende Gees te danke het.

Hoe begryp ’n mens hul optrede, hul gesindheid, as jy nie eens kan verstaan hoe hedendaagse gelowiges dieselfde doen nie? Hoe hulle, ons, steeds op soek gaan na kwessies wat medegelowiges verhinder om volledig deel van die geloofgemeenskap te word? Hoe hulle, ons, skreeu: Óns God!? Hoe hulle, ons, nie besef dat daardie sogenaamde god in alle opsigte ’n kleinletter-paaiboelie is nie? ’n Selfgeskepte karikatuur. Vir seker nié die God van die Bybel nie. Baie beslis nié Jesus Christus se Vader nie.

O God, U wat u wêreld so liefhet, U het selfs vir mý omarm. Ek kan dié genade byna nie glo nie.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.