Lees Psalm 98.
Sing tot eer van die Here … speel op die lier en sing (v 5).
Lofliedere was nog altyd een van die maniere waarop gelowiges kon dankie sê. “Halleluja!” en “prys die Heer!” het gemeenplaas geword waar God se eer besing word. Dikwels is daar ’n spesifieke rede waarom ’n bekende en geliefde loflied aangehef word: oorwinning, uitkoms, genesing. Soms is dit bloot omdat die singende gelowiges wil sê: Hoor ons lied: God is groot, God is goed!
Dit gebeur ook dat ’n begaafde Godskind met pen en papier gaan sit, of met ’n kitaar of by ’n klawerbord en huiwerig, soek-soek, begin om iets heel nuuts te skep. En soms, sê hulle, hierdie begenadigdes, sóms kom dit maklik: Een-twee-drie … en die nuutskepping is voltooi, gereed om ewe maklik aangeleer en gesing te word. Daar is wel ook ander kere, so word vertel, dat die skeppingsproses moeisaam verloop, sukkel-sukkel, met weinig note of akkoorde wat ’n tweede sifting of latere redigering oorleef.
Maar eind goed, alles goed, en voordat jy op ’n geykte “prys die Heer!” hoef terug te val, is daar ’n splinternuwe “halleluja!” op papier of onder jou vingers. Gou-gou gaan lê dit gemaklik in die stem wat dit voortbring en uiteindelik skrop dit nes in die hart van die jubelendes.
Hoe bevoorreg is gelowiges wat van musiek hou! Dit is ’n genadegawe om ons lof uit ons hart te kan voortbring. Al is dit nie altyd uit volle bors nie, omdat ons hart te seer is. Maar weet dít: ’n Nuwe lied hoef nie te bruis en te dreun nie. God word ook in treurpsalms geëer. Hy hoor ook ons sagte gesange.
Hoor my sing, Here, sien my hart by elke woord en akkoord. Ek loof u Naam!
Barend Vos