Lees 1 Johannes 5:1-6.
En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is? (v 4-5).
“Geloof ” is ’n groot woord. Daar word baie dinge, kragtige dinge, regstreeks daaraan gekoppel. Ons praat van geloofsgenesing, byvoorbeeld. En geloofsvertroue. En geloofsheld.
Hoe groter die geloof, lyk dit, hoe kragtiger die gevolge, hoe wonderbaarliker die genesing, hoe skouspelagtiger die heldedaad. Ons lees sulke verhale in die Bybel, en tot vandag toe hoor ons sulke stories wat hulle iewers in ’n saal of ’n tent, ’n hospitaal of op ’n verhoog, in ’n binnekamer of sommer op straat afgespeel het.
’n “Groot geloof ” is ’n eretitel, ’n beskrywing wat met bewondering gemaak en heimlik begeer word. Dikwels as onmoontlik betreur word. Ja-nee, by die meeste van ons rym “geloof ” met “gewoon”, en is die gepaste voorvoegsel alte dikwels “klein”.
Wat sal ons doen om dit anders te maak? Hoe kan ons ’n groot geloof verkry, een wat minstens groot genoeg is? Johannes sê: Gehoorsaam die gebooie! Dit is nie moeilik nie, sê hy, enige Gods-kind kan dit regkry.
Sjoe! Daardie gebooie … en ék? Nee, dit is beslis onmoontlik!
Maar miskien is daar tog hoop vir mense soos ek. Johannes sê enigeen van God se kinders sal dit regkry. Kinders, ja. Daardie kinders wat nie sélf kan nie, wat opgetel moet word, gedra moet word. Wat hul geloof met ’n lepel moet inkry en met wie mooi gepraat moet word voordat hulle hul mond wil oopmaak.
Here, my Vader, my Moeder, voed my elke dag met die brood van die lewe!
Barend Vos