Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Om weer te sien

Lees Efesiërs 1:15-23.

Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet (v 18).

’n Mens het ’n goeie skoot verbeelding nodig om in hierdie wêreld te kan oorleef. Die slim mense sê dit is hoe kinders hul omgewing leer verstaan – deur hul verbeelding vrye teuels te gee. Só speel hulle, só leef hulle.

Maar op ’n dag is hulle groot en verloor hulle hul fantasieë. Of hulle word ru daarvan beroof, boonop deur siniese grootmense. Hul maklike lag verstil, hul oë word troebel. Hulle sien nie meer wat hulle vroeër so maklik gesien en wat hul lewe kleurryk verryk het nie.

Hoe ouer hulle word en hoe meer die lewe hulle verrinneweer, hoe erger word hierdie blindheid. Sodat hulle uiteindelik, nou self grootmense, die soort tonnelvisie ontwikkel waarmee hulle kan oorleef.

Dit kos die krag van God se Gees om hul oë weer oop te maak, sodat hulle kan sien wat Hy hulle wil wys. Om met insig te kan terugkyk en te sien hoe en hoekom dinge gebeur het soos dit ge­beur het. Om met verwagting vorentoe te kyk en ’n uitsig te kry op die heerlikhede wat voorlê. En om met ontsag te sien hoe groot God se krag is, die krag waarmee Hy sy kinders in die verlede beskerm het, waarmee Hy vir hulle ’n toekoms skep. Waarmee Hy grafte oopbreek en nederiges verhef.

Wanneer sy kinders weer geleer het om só te kan sien, kom hulle agter hoe werklik sy goedheid is en hoe realisties die drome wat Hy hulle gee. Dat blink oë God se geskenk aan sy kinders is. En dat dit bedoel is om ’n ewigheid lank te hou.

O leer my om te kan sien, Here! Om weg te kyk van myself, óp, na U.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.