Lees Handelinge 1:15-17.
“Hy is as een van ons gereken en is ook gekies …” (v 16-17).
Hulle was maar honderd en twintig. Ongeveer. En minstens een van hulle het reeds ’n ander keuse, ’n drastiese een, gemaak. Petrus sê dit was so bestem. Buitendien kan niemand nou meer iets daaraan doen nie. Die slag is gelewer, die verraad is voltrek. Hulle sou moes aanbeweeg. Gedane sake het geen keer nie.
Hoe latere lesers van dié verhaal ook al daarna kyk, Judas se optrede bly ’n raaisel. Jesus het hom dan, soos die ander, self uitgekies. Hy het alles gehoor en gesien wat die ander beskore was. Hy was in die binnekring; hy het dit van naby beleef.
Tog het hy Jesus verraai. Verkoop. Dit was sekerlik nie die geld nie. Gerugte wil dit hê dat dit teleurstelling was, dat hy ander verwagtings van Jesus gekoester het, dat hy drome gehad het van ’n koning op ’n wit perd eerder as op ’n donkie. Dat Jesus se oë te sag was na sy sin, sy hart te groot en sy arms te wyd, te verwelkomend. Sodoende het Hy ook die Romeine na Judas se oordeel te lig daarvan laat afkom.
Ons bespiegel bloot. Petrus sê alles moes so gebeur. Maar niks hiervan maak regtig meer saak nie, behalwe dat ons, wanneer ons dié verhaal lees, dié ongemaklikheid ervaar: Wat is óns verwagtings van Jesus? Is dit nie ook maar selfsugtig, selfgerig, selfgesentreerd nie? Strek sy arms dalk nie te ver nie en is sy uitnodigings nie te gul en insluitend nie? In watter opsig is óns teleurgesteld met Jesus?
Kortweg: Wat sal dit kos om my te oorreed om Hom af te skryf?
Ek weet maar te goed hoeveel van Judas daar in my is. Reinig my en my verwagtings, Here!
Barend Vos