Lees Handelinge 1:21-26.
“Daar moet dus nog ’n getuie … by ons gevoeg word” (v 21-22).
Judas se plek word deur ene Mattias ingeneem, ’n medereisiger van die begin af, ook ’n getuie van Jesus se opstanding. Hy was dus altyd daar, op die rand van die binnekring. Nou is hy binne, nogal deur die lot aangewys bo Josef, alias Barsabbas, alias Justus. Só word die kerk se geskiedenis geskrywe.
Tot vandag toe skryf regte mense (mense met name en byname) die kerk se storie. Sommige word tot leiers verkies, sommige bly deel van die dikwels gesiglose massa. Maar die Here van die kerk neem almal saam op hierdie reis. Soms word die reis aan triomfantelikheid geken, opperste en selfs luide dankbaarheid omdat die Bose verslaan is. Dikwels is die reisigers onseker, selfs verflenterd en bebloed, omdat dit ’n pad vol duwweltjies is en die afdraaipaaie volop en aanloklik.
Maar hierdie mense se afhanklikheid van God is hul mees onderskeidende kenmerk. Hulle weet goed dat hulle nie self oor die weg kan kom nie, dat hulle gelei en verkieslik gedra moet word. Hulle ken hul persoonlike geskiedenis van skop-en-skree omdat hulle hul eie kop wil volg en hulle dus teen die Leier, hul Opteller-en-draer, verset.
Dit alles maak hulle getuies van God se bemoeienis met die wêreld waarin hulle leef, en spesifiek met hul eie lewe. Dit is hierdie getuiewees wat hulle laat kwalifiseer om aan Christus se kerkstorie te help skryf. Wanneer hulle sê: Ek het tóg God se goedheid gesien en gehoor en beleef, dán …
Toe U my oë, ore, hart en mond oopgemaak het, Here, toe het ek tuisgekom.
Barend Vos