Lees Psalm 1:4-6.
Hulle is soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word (v 4).
Daar is mense in ons wêreld wat baie swaar dra aan hul eie belangrikheid. Al die selfverklaarde vernaamheid, al die selftoegekende medaljes en selfversekerde waarhede wat hulle met hulle saamkarwei, rem hulle af. Hulle slaap ook swaar, want die enorme drag laat hulle wakker lê.
Daarom is dit vreemd (ag, en juis ook nié) dat die Here so swaar oor hulle oordeel. Die psalmdigter sê: Hulle is veerlig in God se oë, die wind waai hulle sommer weg. Wanneer Hy na hulle kyk … kyk hulle weg. Versmelt al hul ydelheid en waan. Hulle het niks te sê as Hy met hulle praat nie, hulle kan geen woord bydra tot ’n gesprek met óf oor Hom nie. Daarom kan hulle maar opstaan en loop en niemand sal hulle mis nie. Grootmanpraatjies pas nou eenmaal nie by ’n plek waar ’n blye boodskap verkondig word nie.
Ten slotte spreek die psalmdigter ’n verdoemende oordeel oor sulke mense uit. Hy sê: Wanneer hulle opstaan om te loop, eindig hul pad oor ’n afgrond. Hulle oorleef dus nie hul belangrikheid nie.
Daar is wel vir hulle, ironies genoeg, ’n moontlike uitweg. En die sleutel hiertoe lê in die psalmdigter se beskrywing dat hulle so lig is “soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word”. Want is dit nie juis in ons broosheid, ons afhanklike menswees, dat ons in die Here se arms pas nie? Sodat Hy ons, sonder ons belangrikheidbagasie, langs ’n heel ander roete na ’n onberekenbaar veiliger bestemming kan dra nie?
Help my, Here, om nou van my swaar drag ontslae te raak. Tel my op, asseblief.
Barend Vos