Lees 1 Johannes 5:9-13.
Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo (v 13).
Dié brief van Johannes word meermale as ’n liefdesbrief beskou, wat verstaanbaar is: Die hoeveelheid kere dat hierdie man darem oor die liefde skryf …
Te veel van hierdie goeie ding is … fantasties! Ons het dit nodiger as brood – die aanhoudende liefdesverklarings, die herhaalde versekerings van God se liefde. Die verheldering wat dié uitspraak bring: “Werklike liefde is dit: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur” (1 Joh 4:10).
Duideliker kan dit seker nie. Geen gelowige wat hierdie brief lees, kan ooit weer twyfel hoe dinge inmekaarpas nie. Om enigsins hiermee verder te sukkel, is om van God ’n leuenaar te maak. Só skryf Johannes.
Tog is daar mense wat twyfel. Hulle vra: Is ek goed genoeg vir God? Dra ek genoeg gewig by Hom dat Hy na my sal luister? Hoeveel punte tel my liefde, my opoffering vir sy saak, my werk in sy kerk?
Ai, ai.
Ons hoef nie ver te soek na die oorsaak van hierdie ellende nie. Na alle waarskynlikheid is dit mense wat gelowiges dít wysmaak: Julle moet God liefhê, ja, en dan moet julle boonop … Of: Jul oortuiging van God se liefde vir julle is ongelukkig nie genoeg nie; julle moet óók …
Sy genade, ja, plus … Ag tog!
Ek weet dat U my liefhet. Ek weet wat my bestemming is. Ek weet, ja. U sê so.
Barend Vos