Lees Johannes 17:6-12.
“Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam, die Naam wat U My gegee het” (v 11).
Jesus se gebed in Johannes 17 is die langste gebed wat ons van Hom het. Hier bid Hy vir sy volgelinge, en spesifiek vir hulle wat Hom in die drie jaar gevolg het wat Hy gepreek en koninkrykstories vertel het, wonders gedoen het, mense genees en hulle op vele ander maniere aangeraak het.
Daarom is dié gebed intiem, persoonlik. Jy voel eintlik sleg dat jy skaamteloos staan en afluister wat Hy alles vir sy Vader sê en vra. Maar, nou ja, Johannes het dit vir ons neergeskryf en daarom mag ons seker maar luister, lees, en dit ter harte neem. Ons is immers ook Jesusvolgelinge.
Dit is opvallend hoe Jesus die eenheid tussen Hom en sy Vader beklemtoon. Hier onderstreep Hy dit vier keer, dík. Hy sê die Vader het die Seun gestuur. Hy verwys na die mense wat aan die Vader behoort, wat Hy toe aan die Seun gegee het. Hy sê iets oor die woorde wat Hy, die Seun, van sy Vader ontvang het. Wat Hy toe uitgedeel het en wat sy volgelinge gehoor en geglo het. Dan praat Hy oor die Naam wat Hy met sy Vader deel.
Dan vra Hy, die Naamdraer, dat die Vader asseblief sy kosbare volgelinge sal oppas. Die tyd kom nou dat Hy van hulle sal weggaan, terug na die Vader toe, en daarom vertrou Hy hulle aan die Vader toe. Daar is sekerlik niemand anders wat betroubaar genoeg is nie.
Om te dink dat ons soveel werd is! Dat ons só beskerm word. Baie belangrike persone. Adellikes, niks minder nie. Seuns en dogters van God.
Ek is u eiendom. U waak oor my. Dié wete laat my goed slaap, en lekker lewe.
Barend Vos