Lees Johannes 17:13-19.
“Ek bid … dat U hulle van die Bose moet bewaar” (v 15).
Die tyd het gekom en Hy gaan terug na sy Vader toe. Só sê Jesus in hierdie gebed. Sy werk is feitlik voltooi, sy volgelinge het sy Vader se woord ontvang. Al wat nou oorbly, is dat hulle die waarheid daarvan sal aanvaar en hulle daaraan sal toewy.
Jesus se “verslag” aan sy Vader het een dringende, herhaaldelike versoek: Vader, bewaar hulle van die Bose! Daar is mense en magte en kragte wat dit nie goed met hulle bedoel nie. Bewaar hulle van hierdie boosheid, asseblief!
Jesus het goed geweet hoe ’n bose aanslag lyk, Hy het dit immers aan eie lyf gevoel. In die stadium dat Hy hierdie gebed gebid het, sou die ergste nog voorlê – en Hy het dit geweet. Daarom sy kommer oor sy volgelinge: As hulle dieselfde paadjie as Ek moet loop, sal hulle dit oorleef?
Want boosheid, het Jesus geweet, dra nie ’n drietandvurk nie en het nie horings en ’n stert nie. Boosheid skuil dikwels in die binnekring, hou hom daar tuis. Boosheid se gesig skyn soms soos dié van ’n engel van die lig. Daarby lok dit aan, roep dit: Kom na mý toe, en ek sal my wêreld met jou deel!
Feilbare mense is nie hierteen opgewasse nie. Hulle het nie die vaardighede om die Bose op sy plek te sit nie. Hulle moet daarteen beskerm word, en deur Een wat die Bose se Baas is. ’n God wat valsheid kan ontmasker en tot niet maak en sy kwesbare kinders grondig kan troos.
Vader, dankie vir die gebed wat ook vir my gebid is. Ek kom agter hoe U dit elke dag verhoor.
Barend Vos