Lees Handelinge 2:1-21.
“Ek sal my Gees uitstort op alle mense …” (v 17).
Die kerk se geboortedag. Só word daar by nabetragting van hierdie dag gepraat. En elke herhalende viering van daardie eerste Pinkstersondag sou en sal niks minder nie as ’n verjaardagviering wees. ’n Vrolikheid, ’n dag vol dankbaarheid en hoop.
Dankbaarheid, ja – want kyk net hoe ver het ons, die kerk, al gekom. Deur donker dieptes, oor hoë hoogtes, verby bloed en trane. En ons is steeds hier. Al praat ons nie die tale van mense en engele nie en al het ons nooit genoeg liefde nie, het die Gewer van alle goeie gawes ons nogtans geseën sodat mense van alle soorte en tale by ons, die kerk, kon tuiskom.
En hoop, ja – want dit is waarvan ons, die kerk, leef. Ons kyk deur dié venster en probeer fokus op die helder vergesigte wat dit bring. Ons maak dit oop en ruik die nuwe lug wat die benoudheid, die bedompigheid, in en rondom ons, die kerk, verdryf. Ons hou gedurig ’n oog op die helder lig wat deur die opening stroom. Soms waag ons groot en steek ons kop deur dié venster om selfs beter en verder te kan sien. Ons, die kerk, sien selfs gesigte en sien kans om drome te droom.
Dit alles gebeur tydens dié verjaardag, want die Gees is op daardie geboortedag losgelaat. Hy, wat soos ’n wind is wat waai waar Hy wil, Hy het nog altyd geslotenheid en krampagtigheid óóp gewaai. Hy, wat soos ’n vuur woed, het van altyd af dooie takke verbrand en ’n nuwe seisoen ingelui.
Waai ook vandag oor ons, die kerk. Brand ons skoon, o Gees. Maak ons nuut!
Barend Vos