Lees Psalm 104:24-35.
U gee die lewensasem en daar is lewe (v 30).
In hierdie jubelende gedig word God die Skepper se dade besing, die ontsagwekkende gevolge van sy handewerk. Die sigbare, tasbare wysheid waarmee Hy alles gemaak het.
Die digter skilder met ’n breë kwas – aarde, berge, see. Dié groot prent is vol lig. Vriendelik, vrolik. Hoor dan: U het die seemonster geskep om mee te speel. Ook hy is van U afhanklik, hy kom haal dan kos uit u hand. Mag u werk U baie vreugde gee, Here!
Deurgaans, soos ’n prominente ondertoon, skyn daar dié waarheid deur dit alles: Die Here versorg sy skepping. Daar is nie sprake daarvan dat Hy maak en laat staan nie. Die skepsels weet: Hy maak sy hand vir hulle oop, hulle kry genoeg. As Hy Hom van hulle sou terugtrek, is dit klaar met hulle. Hy gee lewe, Hy onderhou dit. Prys sy Naam!
En nou, eeue nadat hierdie lofgedig geskryf is, help dit die latere lesers steeds. Al is dit bloot om hulle ’n ander gesig van God te laat sien – dié van die lighartige God. Die Skepper wat bly is oor sy skepping en wat vreugde vind by sy skepsels. Hy voer hulle, Hy speel met hulle. Hy vier die lewe saam met hulle.
Dit alles verlig die somberheid wat dikwels ons baas word. Dit laat die neerdrukkende werklikhede wyk en bring ’n ander werklikheid in hul plek. Hierdie een dra lig en lewe met hom saam. Dit neurie dié geloofswaarheid: Hy hou die hele wêreld in sy hande. Hy hou jou en my in sy hande.
Ek sal bly sing, Here! U gee nooit u handewerk prys nie. My oë bly op U gerig.
Barend Vos