Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Voorspraak

Lees Romeine 8:26-27.

Die Gees staan ons ook in ons swakheid by … die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie (v 26).

Die gelowiges se sugte kom uit ’n bekommerde hart en ’n gekwelde gees. Waar sal ons hulp vandaan kom? vra hulle, en sug. Wie sal dit weer met ons goed laat gaan? Wie sal ons in hierdie dal van doodskaduwee optel, wie sal ons dra tot in die beloofde land? Só sug hulle, swaar, moeg.

Hoe ver, hoe diep val hierdie sugte nie. Hoeveel emosie dra dit, hoeveel seer, hoeveel swakheid, hoeveel twyfel. Hoe min geloof …

Met verloop van tyd raak hierdie sugtendes ook hul woorde kwyt. Dan het hulle niks meer te sê nie, al die vrae het in hul keel gestol. As ander met oorgawe sing, kyk hulle weg. As ander met oortuiging bid, staar hulle in die niet. Hul woorde is óp, hul gedagtes leeg, hul hart swaarder as ooit. Hul swakheid is daar vir almal om te sien. Nou is dit net die sugte wat bly.

Dan, op ’n dag, hoor hulle ’n ander sug. ’n Ander Sug. Hulle hou hul asem op. Wag. Hulle weet dit kom nie uit hulle uit nie, nie eens uit hul omgewing nie. Dit kom van ver, van diep, na hulle toe aan. Soos ’n nuwe briesie kom stoot dit oor hulle. Soos ’n wind wat waai waar hy wil. En dit bring koelte saam, asem. Nuwe hoop.

Hulle weet nie hoe dit gebeur het nie. Hulle weet nie wat daar­van gaan word nie. Hulle weet net: Dit is om óns ontwil. Daardie sug word namens ons gesug. Dit laat hulle tot rus kom. Gee hulle ’n vrede wat alle verstand te bowe gaan.

O Gees, o Voorspraak by die Vader, pleit tog vir my!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.