Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Getuig

Lees Johannes 15:26-27.

“Wanneer die Voorspraak kom … sal Hy oor My getuig” (v 26).

Dit was nog altyd ’n maklike, dienlike, selfs vanselfsprekende woord. Wel, ten minste vir sommige. “Getuig.” Om oor Christus te praat. Eintlik, onvermydelik, is dit om oor Jesus-en-jy te praat. Om te kan sê: Hoor hier, dit is wat Hy in my lewe vir my beteken het. Kyk, dit is hoe ons verhouding lyk. Halleluja vir my en Jesus!

Daar is ander wat dit nie so eenvoudig vind nie. Vir hulle is die verhouding tussen hulle en Christus intens persoonlik. Hulle is boonop nie altyd seker dat hulle in so ’n verhouding hoort nie. Daarom praat hulle nie graag daaroor nie. Hulle reken hulle het niks om oor te getuig nie, behalwe dalk oor hul eie onsekerhede, hul kleingeloof. Hulle slurp wel elke stukkie goeie nuus op, elke brokkie versekering dat hulle wel aan Christus behoort.

Alle gelowiges, die getuigers én die nie-getuigers, is baie dank­baar vir die Gees. Jesus het immers belowe dat die Gees ook oor Hom, Jesus, sal getuig. Dat die Gees hierdie volgelinge sou herinner aan alles wat Jesus gedoen en gesê het. Sodat hulle, die volgelinge, se getuienis suiwer sou wees. Nooit op fabels en veronderstellings en fantasievlugte gegrond nie, maar op Christus se God-wees-op-­aarde. Dat Hy Immanuel vir sy volgelinge is, God by ons.

Vir die sukkelaargelowiges is daar bowendien dié bykomende troos: Hoor wat noem Jesus die Gees – Voorspraak. Die Een wat voor God sal getuig dat selfs nie-getuigers Jesusvolgelinge is. Die Een wat klein mensies, klein in statuur en begrip en geloof, se saak sal bepleit. Wat sal sê, soos Jesus: Die koninkryk is juis vir mense soos hulle.

Ek dank U, Voorspraak, Trooster, vir U wat praat wanneer ek niks kan sê nie.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.