Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Wag eers …

Lees Johannes 16:4b-15.

“Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie” (v 12).

Jesus se herhaalde beloftes dat Hy die Gees in sy plek sal stuur om sy volgelinge te help, kry nou ’n nuwe dimensie by. Dit blyk dat Hy, die Gees, die volgelinge boonop ’n klomp dinge sal kom leer wat Jesus nie wou nie. Of nie kon nie, omdat die volgelinge in daardie stadium nog nie daarvoor opgewasse was nie. Maar: “Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei” (v 13). Eers later. Eers wanneer julle dit kan vát.

’n Mens sou reken dat diegene wat drie jaar lank saam met Jesus geloop het – hulle wat Hy uitgekies het, wat alles gesien en gehoor en beleef het – teen dié tyd tog meer as gereed vir “die hele waarheid” sou wees. Toe nié. Hulle sou vir die Gees moes wag. Hy sou hulle, later, kom vertel.

Wat kan ons, nóg later, hieroor sê? Dalk dat Jesus sy volgelinge goed ken en dat Hy weet om hulle nie met kennis te oorlaai wat hul verstand en hul insig te bowe gaan nie.

Dat ons versigtig vir ingeligtheid moet wees. Vir alles weet. Vir intieme kennis van God se wil. Ons moet beskeie wees oor wat ons seker weet en wat ons met soveel selfvertroue verkondig. God is groter as wat ons vermoed. Sy wil en sy weë is nie sonder meer aan ons s’n gelyk nie. Ons moet leer om fyn te luister na wat die Gees vir die gemeente sê.

Ja, geseënd is dié wat weet dat hulle nie alles weet nie.

Leer ons, o Gees, om op U te wag. Om ons ore te spits. Om ons mond te hou.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.