Lees Jesaja 6:1-8.
“Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” (v 8).
Net soos “getuig”, is “roeping” ’n woord wat gelowiges soms ongemaklik maak. Sommige gelowiges. Want daar is dié wat hul roeping koppel aan woorde soos “oortuiging” en “vaste sekerheid”. Hulle het feitlik almal ’n roepingsverhaal om te vertel, hulle getuig van ’n aanraking deur die Roeper self, dalk selfs ’n Stem wat na hulle toe gekom het.
Dankie tog vir hulle. Die koninkryk gedy vanweë sulke roepingsbewuste mense. Mense soos Jesaja. Wat ’n storie het hy nie om te vertel nie! Die gesig wat hy gesien het, die engele. Hý wat uitroep: “Dit is klaar met my!” (v 5).
Dan kom die engel met die gloeiende kool na hom toe, dit brand sy mond skoon, rein. En hy is gereed om te antwoord toe die Here vra wie Hy kan stuur. “Hier is ek! Stuur my!” roep hy uit (v 8). Vir almal om te hoor. Stuur mý. Sjoe. Soveel oortuiging. Wat sal baie van ons nie gee om sulke selfversekerde entoesiasme te hê nie. Om darem jou mond deur ’n engel gesalf te kry … Om God se stem te hoor wanneer Hy sê: Ek roep jou. Ék roep jou.
Ag, wanneer sal ek so ’n stem hoor! En waarvandaan sal dit kom? Uit die hemel? Uit die aarde? Uit my eie hart?
Dalk kom dit vandag uit ’n medemens se mond na my toe. Een wat roep: Waar sal my hulp vandaan kom? ’n Mens wat dan nie na die berge of selfs die hemel sal kyk nie, maar na my. Na mý. Omdat die Here hom na my verwys het.
Here, hoe kan ek weier as ek geroep word? Sê nou dit kom van U? Ek wil dan sê: Hier is ek.
Barend Vos