Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die Here se stem

Lees Psalm 29.

Prys die Here om die eer van sy Naam! … Die stem van die Here weerklink oor die waters (v 2-3).

Wat ’n lied! Die psalmdigter sing en sing oor die Here se magtige stem. Hy gebruik beelde wat die latere lesers en saamsingers se verstand laat duisel. Gou besef jy dat jy hier geen keuse het nie: Jy sing maar saam, jy val in en neem die wysie en die woorde oor by hom wat lank voor jou daardie stem gehoor en toe die wêreld se ontsag daarvoor gekry het.

Dit is omtrent al wat ’n mens kan doen as jy iets oor God se stem wil sê. Jy praat nie, jy sing. Jy waag dit nie om kommentaar te lewer of selfs te probeer antwoord nie, jy sing maar net. En verkieslik saam met ’n klomp ander, sodat julle darem ’n behoorlike geluid kan voortbring. Só: “Prys die Here om die eer van sy Naam!”

Eintlik is hierdie ode aan die Here se ontsagwekkende stem ’n uiting van menslike onmag om die Here se krag na behore te besing. Hoe kan ons oor die Here se majesteit uitwei? Ons het bloot nie die woordeskat nie. Daarom gaan haal dié voorsanger maar prentjies uit die natuur – dié van donderweer, weerlig, hittegolwe, mak en wilde diere – en hou hulle aan sy koor voor. Nou kan hulle ook inval en saamsing. “Hoe geweldig!” roep almal uit (v 9).

En ons, soveel eeue later? Ons verwonder ons aan sy krag, ook wanneer ons ’n oorvloed seëninge van Hom ontvang. En ons sing, grootoog, ons dankie.

Prys die Heer met blye galme! O my siel, my liggaam, my lewe sê: God is groot!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.