Lees Johannes 3:1-15.
“Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n ou man is?” (v 4).
Vir die geleerde (maar bangerige) Nikodemus was die “opnuut gebore”-storie een te veel. Hoe op aarde kan ’n mens wéér gebore word? het hy gevra. Jy word tog een maal gebore, vir altyd.
Maar Jesus het iets heel anders op die oog. Soos soveel van sy tydgenote (én sy 21ste-eeuse medegelowiges) verstaan Nikodemus weinig van die rol wat God se Gees in sy geloofslewe speel. Dit is nie ’n natuurlike proses nie, verduidelik Jesus. Dit is geheel en al geestelik, en dit maak nuut.
Hoe sal ek dit verduidelik, Nikodemus? Dink aan ’n wind wat waai. Jy hoor hom, jy sien sy uitwerking op die omgewing, maar jy weet nie hoe dit gebeur het dat hy so waai nie. En jy weet ook nie waarheen hy op pad is nie, wat hy nóg alles gaan beïnvloed nie. Wat alles voortaan gaan verander nie.
Al wat jy regtig van daardie wind weet, is wanneer hy jou raak gewaai het, dalk selfs omgewaai het. Dat dinge hierna nooit weer dieselfde sal wees nie.
Verstaan jy nou, Nikodemus? Sal jy nou jou leerlinge kan vertel hoe dit is om nuut gemaak te word? Nog beter: Sal hulle uit jou optrede kan sien dat jy ’n nuwe mens is? Dat die ou dinge verbygegaan het, dat daar ’n nuwe wind is wat ook in jou lewe waai?
Dit alles is die Gees se werk. Net so min soos jy jou geboorte kon kies, so min kan jy kies om weer gebore te word. Daardie Wind waai waar Hy wil en sy genesende uitwerking op jou menswees bly ’n wonderwerk. Tot seën vir almal.
Ek het hierdie genesing elke dag nodig, o Gees. Waai oor my, hou my gesond!
Barend Vos