Lees Johannes 3:16-17.
“God het die wêreld so liefgehad …” (v 16).
Gelowiges was van altyd af baie lief vir hierdie veelseggende Jesusuitspraak. Dit is trouens een van die heel eerste verse, en bly dalk die enigste een, wat hulle uit hul kop ken. Of dit nou die 1933/53-Bybelvertaling se weergawe is: “Want so lief het God die wêreld gehad …” of die 1983-vertaling s’n – dit het vir gelowiges oraloor ’n soort mantra geword. ’n Bekende, gerusstellende samevatting van die evangelie. God se liefde het geen grense nie. Halleluja!
Maar mense s’n, helaas, is streng afgebaken. Ons sê: Alles wat ek myne kan noem, kan maar aanspraak maak op my liefde. Alles waaruit ek voordeel kan trek, mag maar daarin deel.
Daarom is dit tog vreemd dat gelowiges juis Johannes 3:16 so graag op motorbuffers plak en in ’n huis se voorportaal laat hang of selfs op briefhoofde aanbring. Dit verteenwoordig immers ’n Goddelike opstand teen ons engheid en ons keuse vir geslotenheid en uitsluiting. Hoe ironies dan, want hoeveel wêreldliefde is daar in ons padgedrag? Hoeveel wêreldlinge mag oor ons drumpel kom? En hoeveel haat vir wêreldse mense vloei daar nie uit ons vingers nie, reg onder die Johannes 3:16-logo?
O, en dan moet vers 17 tog hiermee saam gelees word, die versekering dat God se wêreld nie in Jesus se oordeelsvisier is nie, maar op sy reddingsradar. Dat ons nog eens kan hoor wat Hy van sy wêreld dink. Hoe ongebreideld sy liefde is. Dat ons kan besef presies hoe grensloos goddeloos ons minagting is, ons haat.
Here, u liefde skep ook vir my ruimte. Ek leef my uit in u omarming.
Barend Vos