Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Weghardloop?

Lees Psalm 139:1-6, 13-18.

Here, U sien dwarsdeur my, U ken my (v 1).

Wat ’n skrikwekkende gedagte! Geen vrome masker flous Hom nie, geen geheime agenda nie. Hy weet. Hy het dit geweet reeds voordat die sogenaamde onskuldige idee hom by jou aangemeld het.

Hy weet alles, van die begin af. Sit, staan, kom en gaan, praat of stilbly – alles is aan Hom bekend.

Sal ons so ’n God oorleef? Moet ons nie ook maar spore maak nie? Sóveel het al van Hom af weggehardloop …

Jy kan probeer, sê die psalmdigter. Maar hoekom al die moeite? Hy ken jou wegkruipplekke beter as wat jy dit self ken. Hy sal jou daar inwag. En dan? Wat sê jy dan? Wat doen jy? Watter versko­ning dis jy op?

Goed, miskien is wegvlug nie so ’n goeie keuse nie. Dalk is die feit dat Hy jou intiem ken, nie so ’n slegte ding nie. Dalk moet jy jou energie nie op jou verleenthede vermors nie en dit eerder gebruik om jou te verwonder. Om, al is dit met ’n skaam, skuldige gesig, saam met die digter te sê: “Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God” (v 17).

En dalk is jou vrese oor Hy jou so goed ken totaal onvanpas. Wanneer Hy so na aan jou en jou woorde leef, wanneer Hy jou planne, jou gedagtes, drome en fantasieë ken – is Hy dan nie die eerste Een vir wie jy maar kan raad vra nie? Staan Hy nie reg agter die deur van jou hart nie?

Vra Hom dan iets soos: Wat wil U hê moet ek doen? Wat dink U, Here, U wat my mos van voor my geboorte af ken? Pas hierdie droom by u drome vir my?

Here, verhinder my tog om my eie kop te volg. Keer my voor!

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.