Lees Deuteronomium 5:12-15.
“Jy moet die sabbatdag so deurbring dat jy dit heilig hou” (v 12).
Dit is met hierdie Ou-Testamentiese teks waarmee die skrifgeleerdes in Jesus se tyd Hom gepak het. Dié woorde in Deuteronomium 5 was hul alibi wanneer hulle Hom fyn dopgehou en waarop hulle Hom dikwels betrap het. Die gebod oor die sabbatdag. Jesus het dit gereeld oortree. Hulle was woedend.
Maar waaroor gaan die sabbatdag waaroor hulle so begaan was?
Oor rus, sê Moses. Hy vertel hier dat God die sewende dag, die dag nadat Hy sy skepping voltooi het, as rusdag afgesonder het. En dat hierdie dag deur sy mense eerbiedig moes word. Hulle móés rus. Hulle en almal by hulle, slawe inkluis.
Dié dag moes hulle ook help onthou hoe hulle destyds deur slawedrywers verniel is. Dit was hul nadinkdag, en dit was verpligtend. Dat hulle tog nooit genadeloos sou optree nie.
Dit was dus God se geskenk aan sy moeë kinders. Hy het alles gemaak wat Hy wou – en toe maak Hy ten slotte die sabbatdag en gee dit aan hulle. Die sabbatdag, sou Jesus later bevestig, is vir die mens gemaak (Mark 2:27).
Maar toe maak die skrifgeleerdes van hierdie geskenk ’n dreigement. Hulle loop op die sabbatdag rond en probeer uitsnuffel wie die sabbatwet oortree. Van die kruk wat God aan sy kruppel kinders gegee het, word nou ’n karwats gemaak. God beveel rus op dié dag; die wetgeleerdes stook ’n leeftyd se onrus.
Tot vandag toe is daar mense wat van God se goeie nuus ’n onheilstyding maak. Hulle sal nie rus nie. Hulle het Hom nie gehoor nie.
Dankie, Here, vir dié geskenkdag! Help my om dit te gebruik en te geniet.
Barend Vos