Lees 1 Samuel 8:4-11, 16-20.
“Stel nou liewer ’n koning oor ons aan om oor ons te regeer, soos dit by al die nasies is” (v 5).
Samuel moes uit sy ou mentor Eli se foute geleer het. Dié het mos sy seuns vrye teuels gegee om te lieg en te bedrieg en van die Here te steel. Samuel sou sekerlik nie in dieselfde strik trap nie.
En toe het hy. Hoe dit gebeur het, weet ons nie. Maar die verhaal gee dié feite: Die volksleiers het vir Samuel, nou self ’n bejaarde priester, gaan sê hy sal ’n ander plan moet maak. Sy seuns is nie vir hulle aanvaarbaar nie.
Maar dié ander plan is toe reeds deur hulle, die leiers, gemaak: Hulle wou ’n koning hê. Hulle wou soos hul bure wees, met ’n koning wat hulle kon lei en inspireer wanneer hulle oorlog toe gaan.
Natuurlik is Samuel ontsteld, en die Here nog meer. “Hulle het jóú nie verwerp nie,” sê Hy vir Samuel, “hulle het Mý verwerp” (v 7). En Hy sê Samuel moet aan die naïewe volksleiers verduidelik presies wat ’n koning alles van hulle gaan eis, én van hul kinders én hul eiendom. Hoe lyk belasting en hoe lyk diensplig. Hoe dit is as jy ’n koning en sy duur gevolg moet onderhou.
Maar die leiers hoor hom nie. Hulle wil ’n koning hê, ongeag die prys. Krý vir julle! wil ons hulle toesnou. Spyt kom te laat! skel ons
– en vergeet hoe lyk hardkoppigheid, eiewilligheid, stiksienigheid en doodgewone domheid, én die prys wat ons al so gewoond is om daarvoor te betaal dat ons dit nie meer agterkom nie. Dit is mos in elk geval húlle skuld. Of hoe?
Ag, Here, ook ons hoor nie, ons leer nie. Hoe lank sal U dit nog met ons uithou?
Barend Vos