Lees 2 Korintiërs 4:13–5:1.
Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe (4:16).
Dit is louter genade dat ons binneste jonk bly, dat dit elke dag nuut gemaak word.
Só sê Paulus. Ons moet hom seker maar glo, al is die grys hare en die plooie en die kwinte en kwale elke dag duideliker as ooit. Al dui ál die sigbare en minder sigbare en die goed verbloemde tekens op verouder en verslete en verrinneweer en selfs vergaan.
Daarom is dit ’n voortreflike ruiling, hierdie uiterlike oudword vir ’n innerlike nuutword. Die omgekeerde is te erg om aan te dink …
Buitendien besorg dié vernuwing ons ook genoeg nuwe moed, wat ons laat kans sien vir enigiets wat die lewe na ons toe wil gooi. Ja, gooi maar, kan ons nou sê, ons kan ons man staan!
Dit is ook vanuit dié daaglikse vernuwing dat ons begin hoop. Sien, ons het ’n platform nodig van waar ons die toekoms kan sien. En hoe stewiger dié platform, hoe minder onnodighede daar rondstaan – ou, verslete gedagtes en gevoelens en koeie wat ons so gereeld uit die sloot grawe – hoe beter die kanse dat ons behoorlik kan fokus op wat God vir ons opgedroom het.
En as die ou lyf tussendeur ál meer krake begin wys, is daar altyd die troos: Wanneer die tent afgebreek of omgewaai of flenters geskeur word, is die verhuising dán na ’n behoorlike huis. Die produk van die vaardigste Vakman van almal. ’n Plek waar ons sal tuiskom.
Maak skoon, Here! Reinig my asseblief gereeld, sodat ek altyd goed kan sien en helder kan droom.
Barend Vos