Lees Markus 3:20-30.
Die skrifgeleerdes … het gesê: “Hy is van Beëlsebul besete!” (v 22).
Dit is gewoonlik die eerste reaksie wanneer iemand iets doen wat jy óf nie verstaan nie óf erg onthutsend vind: Maak hom of haar verdag. Gee hom of haar ’n naam. Lag uit. Verneder.
Dit is die sekerste manier om jou ontsteltenis en onkunde weg te steek. Dit wek die indruk dat jy steeds in beheer is. Dat daardie een se optrede net ’n tydelike lastigheid is. Dat die laaste sê in elk geval aan jou behoort.
Die destydse skrifgeleerdes was in groot moeilikheid. Hier was iemand wat hulle teologies uitgedaag en meermale op die agtervoet gehad het. Wat was die enigste uitweg? Skel. Raas. Aanval was nog altyd die beste (enigste?) verdediging vir hulle wat nie herwaarts of derwaarts weet nie.
Maar die vername geleerdes se geveg was hierdie keer nie teen verskrikte onderhoriges nie. Daarom was hulle sekerlik nie gereed vir Jesus se dodelike logika nie. Hy wat na ’n verdeelde huis verwys, na die voorbeeld van ’n huisroof.
Hulle was nie opgewasse teen Jesus se skerp, skérp verwysing na die onvergeefbare sonde nie. Én die feit dat al die vingers nou na húlle wys, omdat hulle nie die geeste kon onderskei nie.
Dalk sal hierdie voorval mense soos ons daarvan weerhou om ander te verneder en verdag te maak bloot omdat ons nie met hulle saamstem nie. Dalk dwing dit ons tot beskeidenheid, tot stilbly wanneer ons nie seker is nie. Leer ons dalk nou die gewoonte aan om op die Gees van die waarheid te wag.
Goeie Gees, ek is van U afhanklik. Leer my praat, leer my swyg, leer my liefhê.
Barend Vos