Lees Markus 3:31-35.
“Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder” (v 35).
Moeilik, nè? Hoe verstaan ’n mens Jesus se uitspraak hier? Ons wat hier lees, het immers almal ’n moeder en broers en susters. Of ons verstaan of onthou minstens die sentiment wat met hierdie intieme familieverbintenisse saamgaan. Nou klink dit kompleet of Jesus hierdie diepe verbondenheid geringskat.
Natuurlik is dit nie so nie. Hy wou maar net aan dié wat na Hom gesit en luister het, vertel hoe kosbaar hulle is. Hoe naby Hy aan hulle is en hulle aan Hom. Hy wou alle twyfel wat daar by hulle kon bestaan, uit die weg ruim deur te sê: As jy God “Vader” noem, is ons mekaar se familie, want Hy is ook mý Vader.
Vir almal wat familiewees hoog aanslaan, is dit ’n veelseggende verklaring. Vir elkeen wat wonder oor Jesus se intieme begrip van hul lewe, is dit ’n wonderlike troos. Hy weet. Hy is naby.
Is dit moeilik om te begryp? Nee, inteendeel. Dit is eenvoudig. Selfs mense wat sukkel om lief te hê, mense soos ons wat van woede ’n gewoonte maak en van onderskeid ’n wet, selfs ons kan dit begryp.
Daar is wel steeds ’n ontbrekende antwoord op dié vraag: Beteken verstaan ook sonder meer gehoorsaam? Is begrip gelyk aan maak-soos-Hy-sê?
Nie? Dan word dit tóg ’n moeilike saak. Moeilik om te verstaan dat mense wat onvoorwaardelik tot die familiekring toegelaat is, nou so vol voorwaardes is wanneer hulle buitestanders beskou. So gereed om te weeg, so geneig om te lig te bevind.
Selfaangestelde deurwagte … Onbegryplik!
Here Jesus, leer my om na my familie om te sien soos U na my omsien, soos U na almal omsien.
Barend Vos