Lees 1 Samuel 15:34–16:13.
“Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike” (16:7).
Ek het julle mos gesê!
Dit kon met reg Samuel se reaksie gewees het ná die mislukking van Israel se eerste koning. Die ou priester het die Israelitiese leiers gewaarsku. Hy het voorbeelde genoem, tipiese scenario’s geskets, maar hulle wou nie hoor nie. Hulle wou ’n koning hê. Toe kry hulle een. En toe berou hulle dit.
Saul se ondergang is ’n tragiese hoofstuk in die geskiedenis van die menslike hubris. Deur die eeue wou mense tog so graag god-god speel – met hulleself in die hoofrol. Maar telkens lewer dit ’n reuse-misoes op. Hoe tragies tog! En hoe voorspelbaar.
Maar die God-van-geen-verwyt, die Here-van-tweede-kanse, stuur Samuel na ’n ou vader in die dorpie Betlehem. Dáár wag ’n nuwe koning om gesalf te word. Die Israeliete se tweede kans.
Sou dit die ou man se oudste seun wees? Of is die tweede een dalk die uitverkorene? Die sewende een? Nee. Die God-wat-ken se sommetjies werk anders. Die Here-wat-alles-weet sê vir Samuel hy kyk verkeerd. Daar was nog een. Almal het hóm misgekyk, die outjie met die rooi gesig. Hy was darem goed genoeg om met die gesin se skape vertrou te word.
Die Here sou hom, hierdie seuntjie uit die Betlehemdistrik, uiteindelik met sý skape vertrou. Hý, die onwaarskynlikste kandidaat, was die man na God se hart.
Samuel en alle priesters, én mense soos ons, sal by God moet leer hoe om na ander te kyk. Sal gereeld moet vra: Here, wat sien U wat ons nie kan sien nie?
As U nie met sagte oë na my gekyk het nie, Here, wat sou van my geword het?
Barend Vos