Lees 2 Korintiërs 5:6-10.
Ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil (v 9).
Ons bid dit, ons vra ook: “Laat u wil geskied …” Ons is boonop lief daarvoor om ons gebede af te sluit met: “Nogtans nie my wil nie, maar u wil …”
Ons ken ons plek voor Hom. God besluit, en ons val daarby in. Sy weë is nie ons weë nie, sý wil moet geskied. Ons berus daarby.
Dít, sê Paulus, is ook maar beter so. “Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn” (v 10).
Daarom speel ons liefs veilig: Ons soek nie moeilikheid nie, ons soek God se wil. Daar is ’n laaste uitspraak wat op ons wag, en ons moet tog nie nou aan die verkeerde kant van sy wil beland nie.
Só verloop een van die groot selfgesprekke in die gelowige se gemoed.
Ai, ai. Hoe het dit dan gebeur dat God in baie se gedagtes en gemoed hierdie groot paaiboelie geword het? Hoe word sy wil sommerso gelykgestel aan die een of ander wraakgierige tiran se grille en geite?
Wat gaan dit kos om sulke gelowiges, bevrees en bedruk, daarvan te oortuig dat God se wil áltyd tot hul beswil is? Dat Jesus se beangste sug in Getsemane: “Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!” (Luk 22:42), juis ter wille van ons was? God het gewil dat Hy ly, omdat God gewil het dat ons sal los kom.
God se wil bind nie, dit bevry. Onthou, sê Paulus, dit is Christus wat op die gevreesde regterstoel sit. En as daar Een is wat alles weet, is dit Hy.
Here, U wil net die beste vir u kinders hê. Jesus het daarvoor betaal. Halleluja!
Barend Vos