Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Wonderwerke

Lees Markus 4:26-34.

“Iemand saai die saad op die land en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei – hóé weet hy self nie” (v 26-27).

Jesus se koninkrykstories maak moeilike begrippe maklik. Hier­mee wys hy die waarheid van God se koninkryk aan mense wat gereeld teen hul veronderstellings en vooroordele vaskyk. Hier­mee sê Hy: Sien jy? Só werk God.

’n Verrassende waarheid kom op hierdie wyse aan die lig. Soms is dit onthutsend, en vir sommige selfs ontstellend. Maar dit bring altyd, áltyd verwondering teweeg. Kan dit wees! Is God dan só?

In die eerste van hierdie twee stories vertel Jesus: Die saaier doen sy werk, en dan staan en kyk hy hoe dinge verder “vanself ” verloop. Hy het geen verklaring daarvoor nie, hy kyk net. Later sal hy die sekel insteek en begin oes.

In die tweede storie is daar boonop dié verwondering: Die klein­ste saadjie bring die boom met die grootste takke voort, tot voordeel van vele.

Só, sê Jesus, werk dit in die koninkryk van God. Daar is mense wat hul koninkryksplig doen, dag na dag. Maar die geil opbrengs is nie die gevolg van hul harde werk nie. Hulle weet trouens nie eens hoe dit gebeur het nie. Hulle sal bloot op die regte tyd begin oes, dankbaar, verwonderd.

Nee, beklemtoon Jesus se stories, God verwag geen wonder­werke van sy koninkrykskinders nie. Wonderwerke is sý werk. Hy vra gehoorsaamheid, getrouheid, dag na dag. Die res gebeur vanself: Klein mensies wat klein dingetjies doen wat groot gevolge het. Só werk God.

Dankie, Here, vir u wonderwerke in my wêreld. Vir die groot dinge wat U doen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.