Lees Esegiël 17:22-24.
“Al die bome in die veld sal weet dat Ek die Here is” (v 24).
Die Gewer van alle goeie gawes. Só sê ons oor Hom, die God van ons lewe.
Ons leer hierdie belydenis van kleins af. Van ons “Jesus, maak my hartjie rein”-dae af. Ons word hiermee groot. En oud. Soos ons jare trouens toeneem, so groei ons geloof in ’n God wat goed is, wat omgee, wat vergewe, wat van voor af met ons begin, wat nuut maak.
Ons kan nie anders nie. Ons raak té bewus van ons broosheid om te wil glo in ’n wraaksugtige God. Ons is té afhanklik van Hom om te dink Hy gaan sy rug vir ons draai, ons wegwys.
Die profeet bevestig God se omvangryke sorg vir sy beleërde, beteuterde mense. Want in die onderlinge vetes wat die vorstelikes en ander groot manne met mekaar het, staan sy kinders beangs en toekyk. Gewone mense word dikwels die slagoffers van maghebbers en ander belustigdes se gevegte.
Maar God sien na hulle om, hierdie kleintjies. Hier stel Esegiël Hom aan die woord, en die kragtige, besliste Godswoorde beloof nuwe lewe tussen al die vernietiging, Goddelike koningskap te midde van die chaos wat menslike magsug bring. Hieroor is daar geen twyfel nie: “Ek, die Here, het dit gesê en Ek sal dit doen” (v 24). So keer Hy die orde om. Hy maak klein boompies groot en groot bome klein, Hy laat groen bome verdroog en droë bome bot.
Wanneer Hy ingryp, verander dinge beslissend. Hy bring nuwe lewe aan die vertraptes, nuwe hoop aan die verbryseldes. Hy is die nuwe Skaduwee vir sy sonvernielde kinders.
U beloftes is ons beste hoop. U ingryping in ons wêreld is ons enigste troos.
Barend Vos