Lees Psalm 92:1-4,12-15.
Hulle vind hulle krag in die huis van die Here (v 14).
Dit hoort so: om ’n loflied oor God se liefde en trou te sing, om dit soggens en saans te doen, elke dag. En om behoorlike begeleiding by te voeg sodat dit wyd kan weerklink.
Die Here se kinders het baie om oor dankbaar te wees. Hul Here het groot dinge vir hulle gedoen. Daarom kan hulle, soos hoë bome, na die hemel reik. Kan hulle afkyk op die teenstanders wat jammerlik klein gebly het. Wie se opstand gestuit is en wie se eens oorverdowende stem dun geword het, onbelangrik.
Hulle maak nie meer saak nie. God is groot, en Hy maak sy kinders groot.
Hierdie opvoeding, sê dié lofsanger, vind in die tempel plaas. Dit is waar die groeikrag vandaan kom. Hoe dan anders? In die Here se huis gebeur groot dinge met klein mensies. Hier leer hulle hul Here ken as die Vader van die huis. Hier leer ken hulle hul plek voor Hom. Hier hoor hulle van die drome wat Hy vir hulle koester.
Dit bly hulle by, hul lewe lank. Selfs wanneer hulle oud geword het, sal hulle steeds geken word as ’n toring van krag, ’n sieraad om na op te sien. Loof die Here, want dit is alles sy werk!
Hulle weet helaas ook dat hoë bome die meeste wind vang, en dat sulke winde verniel en verwoes. Daarom bly hulle bewus van hul afhanklikheid. Ken hulle hul broosheid, en weet dat hulle immer die teiken van boosheid sal wees. Waak hulle sonder ophou om geanker te bly in Hom wat hulle geplant het.
Wat ek is, is net genade. En ek sal altyd onthou dat ek u kindjie klein is.
Barend Vos