Lees 2 Korintiërs 5:14-17.
Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom (v 17).
Wat presies is “die nuwe” wat gekom het? En presies hoe klop die “nuwe mens” se hart? Hierdie Bybelvers word dikwels aangehaal en wyd gebruik as aansporing en vermaning. Daarom is dit belangrik om hieroor uitsluitsel te kry.
Dit is alles God se werk, sal Paulus gou-gou byvoeg, en ons kan dit maklik uit die voorafgaande teks aflei. Dit is juis hierdie inligting wat ons help, want hiervolgens het ons geen keuse nie. Christus se liefde dwing ons tot die belangrike insig – en hoe kan ons ons daarteen verset? – dat ons vir Hom moet lewe. Hy wat ons so liefgehad het dat Hy sy lewe vir ons gegee het.
Hier, by hierdie liefde, hoor ons die hartklop van die nuwe mens. Dit is “die nuwe” wat gekom het.
Daar is ’n noodwendige gevolg, sê Paulus: Ons kyk nou met ander oë na Christus en na mekaar. Voorheen was dit anders. Toe het ons ’n vrysê gehad, en dit lustig aangewend. Beoordeel, geoordeel. Alles luidkeels.
Maar dit was in die ou dae. Toe het die ou dinge nog gegeld. Toe was die ou ek nog aan die woord. Nou het dinge verander. Nou ken ons Christus beter en ons weet wat Hy en sy liefde van ons verwag.
Sien, die ou hart was hard, onversetlik. Die nuwe hart is sag, tegemoetkomend. Christus se liefde het dié onmoontlikheid ’n werklikheid gemaak. Só werk God.
Moet nooit ophou om aan my te werk nie, Here! Hou moed met my, asseblief!
Barend Vos