Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Geskenke

Lees Psalm 133.

Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon! (v 1).

Jy kies nie jou familie nie. Hulle is ’n gawe van God. Maar soos dit soms met geskenke gaan, word dit nie altyd na waarde geskat nie. Dit is dikwels eers later, wanneer jy groter en ouer geword het, dat jy hierdie omvattende rykdom wat aan jou gegee is, na behore begin waardeer.

Soms. Want waardeer is eintlik bloot ’n versugting. “Hopelik waardeer” is straks nader aan die kol. Broedertwis is ongelukkig geen versinsel nie en onderlinge gevegte of ysige stilstuipe tussen broers en susters is nie ’n vreemde verskynsel nie.

Dit gebeur dat broers en susters mekaar ná lange jare eers weer by ’n ma of ’n pa se begrafnis raakloop – en dan word die twis om verskeie redes hervat. Dit verhewig selfs.

Watter seëning is dit nie as strydbyle begrawe word nie. As ou koeie selfs dieper in hul stink sloot toegegooi word. As onver­nietigbare gemeenskaplike herinnerings uitgehaal en blink gevryf word. As die stories van destyds oor en oor vertel word, daar saam gelag word, en soms ’n traan afgevee word. Watter gehaltelewe! “Hoe goed, hoe mooi is dit …”

In hierdie opsig is gelowiges veelvuldig geseënd. As kinders van dieselfde Vader ken hulle mekaar as broers en susters. Familie.

Nee, hulle het nie hierdie familie gekies nie; dit is aan hulle gegee. Hulle is mekaar se geskenke van Bo, in goeie en slegte tye. Hulle lag saam en huil saam, hulle weet hoe om saam te praat én teë te praat, om saam te sweer én saam te swyg. Hoe goed, hoe mooi is dit.

Vader, dankie vir hulle met wie U my geseën het. Maak my elke dag tot ’n seën vir hulle.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.