Lees 2 Korintiërs 6:1-7.
Ons het onberispelik opgetree, met begrip, met verdraagsaamheid en vriendelikheid (v 6).
Paulus gee die eer vir alles wat hy en sy medewerkers in die Korintegemeente bereik het aan die Heilige Gees, aan die krag wat hulle van God ontvang het, aan die waarheid wat hulle verkondig het en aan die liefde waarin hulle dit alles gedoen het.
Daar moet tog nie met hul bediening fout gevind word nie …
Want hulle is dienaars van God, sê hy. En God se Naam moet geëer word. Wie anders as God se bediendes sal in sy Naam soveel ontberings ly – en hy noem op: slae, tronk, oproer, honger, nagte sonder slaap en wat nog alles? Deur dit alles, sê hy, soek ons God se wil, verkondig dit, leef dit uit.
Wat ’n getuienis! Niks minder nie as ’n perfekte voorbeeld van wat God se gestuurdes doen. Met bypassende notas oor wat hulle te wagte kan wees. Want min mense sal vir hulle hande klap.
Maar dit maak nie veel saak nie. Hulle vra bloot die Here se goedkeuring.
Hedendaagse gelowiges, mense soos ons, moet liefs hier verby blaai. Ons speel nie in dié liga nie. Niemand sal ons van onberispelike optrede verdink of ons weens ons groot begrip en verdraagsaamheid vervolg nie. Ons sporadiese vriendelikheid is dikwels ook maar ’n tydelike masker, sodat ons eers kan bepaal hoeveel ons uit die situasie sal kry.
En die Here se goedkeuring? Nee, ons wil eerder hoor wat die mense van ons dink. Ons sal hemel en aarde versit om hul goedkeuring te kry en hul bewondering te verwerf.
Ek skaam my. Ek weet ek kan U nie bluf nie. Maak my anders, Here!
Barend Vos