Lees 2 Korintiërs 6:8-13.
Ons het nie ons harte vir julle gesluit nie; julle het julle harte vir ons gesluit (v 12).
Ondank is wêreldsloon, lui die ou spreekwoord. Oftewel: Moenie sonder meer applous verwag as jy aan iemand ’n weldaad bewys het nie. Om opreg dankbaar te kan wees, is ook ’n gawe. En nie almal het dit ontvang nie.
Paulus en sy medewerkers het dit aan eie lyf gevoel. In ’n roerende, maar bitter stukkie skryfwerk spreek hy sy ontsteltenis hieroor uit. Die Korintiërs het nie mooi met hulle gemaak nie. Die goeie nuus wat Paulus-hulle daar kom verkondig het, het hulle nie bly gemaak nie.
Uiteindelik sê Paulus baie duidelik: Ons is nie vir julle kwaad nie. Hoe kan ’n mens vir jou kinders kwaad wees? Maar juis omdat julle so naby aan my is, wil ek by julle pleit om jul hart vir ons oop te maak. Ons het alles vir julle gegee – ontvang dit tog!
Dit alles klink inderdaad soos die pleidooi van ’n uiters besorgde ouer. Hy het immers ook in die vorige hoofstuk gesê: “Ons smeek julle …” (2 Kor 5:20).
Mooipraat, pamperlang. Hoe goed ken elke ma en pa dit nie. En hoeveel keer het God se kinders dit nie al uit hul Vader se mond moes aanhoor nie: Asseblief, my kind!
Ouers weet ook dat hulle al meermale iets gesê het soos: Dit blyk dat soebat nie meer help nie. As jy nie wil hoor nie, moet jy voel. Jy bly my kind, sê ons, maar ek ken jou nie meer nie.
Ag, en wat sal die Here uiteindelik oor mý sê? My hart wat klip geword het?
My hart behoort aan U, my Vader. Vorm my en maak my, net soos U wil.
Barend Vos