Lees Markus 4:35-41.
“Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?” (v 41).
Ja, wie is Hy? Dit sou die vraag bly, sy aardse lewe lank, en selfs daarna, tot nou toe.
Die skare wat Hom later in Jerusalem met trompetgeskal sou ontvang, sou dit ook vra. Die hoëpriester sou dit by sy verhoor vir Hom vra. Sy dissipels, sy intiemste kring, sou tot aan die einde daaroor wonder. Hy het hulle self gevra: Wie, sê julle, is Ek? (Matt 16:15; Mark 8:29; Luk 9:20).
Al wat leef en beef het ’n eie antwoord gehad. Die sterrekykers uit die ooste het gesê hy is die nuwe koning wat gebore is. Later was daar dié wat gedink het Hy is dalk Johannes die Doper, of selfs Elia. Die soldate wat by sy verhoor betrokke was, het ’n kennisgewing boaan sy kruis vasgemaak wat sê Hy is die koning van die Jode. Die offisier wat by sy kruisiging toesig gehou het, het gesê Hy is waarlik die Seun van God.
Soveel hoofde, soveel sinne. En nog baie meer …
Jesus se antwoorde hierop vereis ’n hele studie.
In hierdie verhaal oor die dissipels se vrees is daar ook vrae. Wat ons, baie jare later, met die voordeel van nakennis, sommer self kan beantwoord. Soos wanneer die beangste manne vra: “Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?” (v 38). Of wanneer hulle, toe alles stil geword het, verwonderd vra: “Wie kan Hy tog wees …?”
Ons sal kan antwoord: Hy is die Een wat werklik omgee. Wat ons jammer kry wanneer ons bang is. Wat wonder waarom ons so sukkel om in Hom te glo.
Here Jesus, U is my Verlosser, my Vriend, my Optelarms, my Vashouhande, my Toemaarstem. U is al wat ek wil hê.
Barend Vos