Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Erkentlikheid

Lees Psalm 107:1-3, 23-32.

Hy het die stormwind stilgemaak, en die golwe van die see het bedaar. Die seevaarders het hulle verheug … Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde, vir sy wonderdade (v 29-31).

Wie is Hy wat die stormwind stil maak en die golwe laat bedaar? Dit is Hy wat Hom oor die seevaarders ontferm, wat hulle veilig na die hawe toe lei.

Sal hulle Hom loof vir sy troue liefde, sy wonderdade? Sekerlik! Dankbaarheid kos niks. Hul nood het hulle leer bid, en dit was God se ingryping wat hulle gered het.

Hulle weet dit alte goed. En vir mense wat sy goedheid eerste­hands ervaar het, is erkentlikheid mos ’n gegewe.

Of is dit? Sal hulle nie ook maar later, wanneer almal weer lekker warm en droog en goed beskut is en die ergste ontsteltenis gaan lê het, vir mekaar sê die wind het gelukkig op die regte tyd gedraai en die deining het toevallig daardie einste tyd effens bedaar en iemand, soos die duiwel dit wou hê, het juis toe die lig in die verte gesien en geweet die hawe is binne bereik nie?

Hierdie gelukkige sameloop van omstandighede het almal weer nuwe moed en krag gegee. En siedaar: eind goed, alles goed!

Dit bly een van die grootste, vreemdste raaisels: Dat mense wat in die hoogste nood verkeer, wat hulle tot die Here-van-hul-jeug wend en “liewe Jesus, help my!” roep, dat hulle ná hul uitredding eensklaps weer grootmense word. Sterk, onafhanklik.

Net half skaam oor hul onvanpaste gedrag van flus. Verbeel jou, giggel hulle, ek roep help, help, God! Sulke kinderagtigheid tog …

Vergewe my, Here, my ego, my eiewaan. My grootmanspeletjies. My sondige gebrek aan erkentlikheid.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.