Lees 2 Samuel 1:1, 17-27.
“Jou trots, Israel – op jou hoogtes lê dit verslaan. Hoe het die helde geval!” (v 19).
Dawid sou Israel se tweede koning word. Maar hy het sekerlik nooit kon dink dit sou só gebeur nie – met ’n nederlaag teen die Filistyne, met die dood van Saul se drie seuns, onder andere Dawid se boesemvriend, Jonatan. Toe boonop Saul se dood deur sy eie toedoen (1 Sam 31).
Hieroor sou die digtersanger Dawid ’n klaaglied komponeer en opdrag gee dat dié hartverskeurende lied oral gesing word. Sodat Israel sy gevalle helde sal betreur, veral Saul en Jonatan.
Saul, ja, die man vir wie Dawid sou opvolg. Die mislukte koning, wat hoe langer hoe meer die kluts kwytgeraak het. Maar Dawid sou hom ’n held noem, die trots van Israel, ’n geliefde en beminde mens.
Is dit ’n geval van die tipiese nadoodse verering, wat ons ook so goed ken? Dié mens is dood, kom ons vergeet nou maar al die ou negatiewe dinge?
Dit is seker moontlik. Maar dit is sonder twyfel ook die staatsman Dawid wat hier aan die woord is. Daar is geen sprake van triomf of ’n sweem van uiteindelik! nie. Nee, net maar ’n oproep tot die volk om ’n gevalle gesalfde na behore te betreur.
Kom ons onthou vandag die goeie dinge wat hy gedoen het, sê Dawid, die suksesse wat hy behaal het. Sy status by God.
Ag, en dan was daar Jonatan. Sy dood het Dawid se hart gebreek. Broer, noem hy hom. ’n Geliefde, ver bo ander. Dit is weer ’n ander Dawid wat hier praat. Dit is die huilende vriend met die stukkende hart. Dit is só seer …
Here, U wat diep kyk, U ken ons hart by al ons smart. Here, wees ons genadig!
Barend Vos