Lees Psalm 130.
Uit die dieptes roep ek na U, Here, luister tog na my, Here (v 1-2).
Weer die ek-sal-wag-psalm. Maar miskien het dit tyd geword dat ons nou die spreekwoordelike olifant in die vertrek in die oë kyk, die probleem waaroor niemand wil praat nie.
Reg so? Miskien kan ons dit alles in ’n kort vraag saamvat: Hoe het jy hier beland? Of, as jy wil: Wie se skuld is dit dat jy in hierdie dieptes is?
Ons het mos almal ’n vinger wat gereed staan om te wys – weg van ons af, na húlle. Hulle, wie se skuld dit is. Hulle wat my niks gun nie. Hulle wat bloot jaloers is. Hulle wat saamgesweer en gesorg het dat ek nou op hierdie donker plek in my lewe is.
Wanneer ons onmiddellike argwaan teen hulle effe uitgewoed is, is daar altyd die goeie, gelowige ding om te sê, iets soos: Dit was die Here se wil. Om te sug: Ek sal maar berus, wat anders kan ek doen?
Wat anders? Tog nie na die Here ook vinger wys nie. Hy is Lig en daar is geen duisternis in Hom nie. Sogenaamde berusting in sy sogenaamde wil is dikwels net ’n bedekte beskuldiging.
Nee, ek oordeel jou nie. Eintlik toets ek net myself. Sien, ek ken ook sulke dieptes. Toe het ek die hele tyd in daardie donker gesit en tob oor wie se skuld dit is. Gekla, geskel, verwyt.
Daarom verlekker ek my nie in iemand se leed nie. Eintlik wil ek maar sê: Ek hét toe daar uitgekom; jy moet net vasbyt.
Ja, wag op die Here. Hy is die wag werd. By Hom is die verlossing seker.
U het my uitgehaal. Dankie, Here. Help my om nie weer met vuur te speel nie.
Barend Vos