Lees Markus 5:21-23, 35-42.
Die mense was stom van verbasing (v 42).
Jesus se genesings was nog altyd groot nuus, destyds en steeds. Die Evangelieverhale wat oor sulke wonderwerke handel, is van die bekendstes. Gelowiges ken dit goed, hul leraars preek gereeld daaroor.
Buitendien is die verhaal van Jaïrus se sterwende dogtertjie werd om dikwels gehoor te word. Markus vertel dit in besonderhede, en sy lesers hoor die kommer in Jaïrus se stem wanneer hy voor Jesus neerval en Hom soebat. Asook die geweeklaag van die mense, wat Jesus noop om hulle stil te maak. Ons hoor hoe Jesus uitgelag word toe Hy sê die kind slaap net.
Dan sien die lesers, verwonderd soos die ander wat daar teenwoordig was, hoe Hy die kind se hand vat en sê sy moet opstaan. Hoe netnou se rasendes nou stilbly. Ja, sê Jesus, en hou nou maar jul mond!
Daar was gereeld ’n gedruis rondom Jesus. Diegene wat reken dat hulle van beter weet, wat ander wou reghelp. Ook dié keer. Hulle het hul hande in die lug gegooi, te kere gegaan. Te laat! het hulle geween. Te laat!
Dan kos dit Jesus om hulle wat na Hom opsien, dié wat hul afhanklikheid van Hom openlik verklaar het, gerus te stel. Om hulle te beskerm teen die slimmighede, die beterweterigheid, die krokodiltrane.
Want sy wonderwerke gebeur nie net langs siekbeddens nie. Dit blyk keer op keer wanneer Hy by beangste mense langs die pad vertoef, hulle aanhoor en onder sy vlerk neem.
Wanneer Hy vir hulle sê: Glo Mý maar, moet jou nie ontstel nie.
Ek hoor u stem, Here! Ek sien u krag. Ek voel u arms wat my dra. Ek glo U!
Barend Vos