Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Wonderwerker, weer

Lees Markus 5:24-34.

Die vrou het geskrik … en vir Hom haar hele geskiedenis vertel (v 33).

Daar is nog ’n rede hoekom die verhaal van Jaïrus se dogtertjie met aandag gelees moet word: die stukkie storie wat tussendeur vertel word. So terloops soos ’n hand wat aan Jesus se kleed raak wanneer Hy probeer om deur die samedromming te kom, haastig op pad na die krisis by die raadslid van die sinagoge se huis.

Behalwe dat daar niks terloops hieraan was nie. Nie in die vrou se aksie nie, nie in Jesus se reaksie nie. Sy het willens en wetens aan Hom geraak, alhoewel sy geweet het dit is onwettig. Sy mag nie eens daar gewees het nie, dié onrein vrou!

En Jesus? Hy het Hom nie aan sy dissipels se ongeërgdheid gesteur nie. Teen hierdie tyd het Hy geweet hoe onoplettend hulle is, hoe ingebuig op hulleself. Die ene ore vir hul eie stem, die oë oop vir hul eie behoeftes en persoonlike begeertes.

Daarom ignoreer Hy hulle, onderbreek die dringende reis en gee aandag aan die vrou. Sy vertel hom haar storie, haar láng storie van twaalf jaar se lyding. Van dokters se onbekwaamheid en gie­righeid, van hierdie laaste kans wat sy aangegryp het. Letterlik aangegryp het.

En Jesus genees haar. Sonder ophef of bohaai. Hy sê bloot: “Jou geloof het jou gered” (v 34). Haar geloof? wil jy in ongeloof uitroep. Watter geloof? Is desperaatheid dan geloof? ’n Hand wat uitgesteek word, ’n hartseerstorie wat gedeel word?

Klaarblyklik, ja. Die Wonderwerker het nie óns idee van geloof nodig om sy werk te doen en sy liefde te bewys nie. Buitendien ken Hy ons storie beter as wat ons dit self ken.

Kyk, Here, ek steek my hand na U toe uit, ek klou aan U vas. Voel U dit?

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.