Lees Klaagliedere 3:22-33.
Dit is goed vir ’n mens om sy las in sy jeug te dra. Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly … laat hy hom diep verootmoedig (v 27-29).
O, die deemoed tog! Die nederigheid, so kop-in-die-grond, die oë afgewend. Sleepvoet, die een moeë voet voor die ander. Genade, tog!
Ja, maar dit is Klaagliedere hierdie, nè? Wat het jy anders verwag – ’n motiveringstoespraak? ’n Resepmatige 1-2-3-verklaring-vir-alles, soos in ’n pienkboekie vol uitroeptekens?
Nie? Goed, maar dan moet ons diep asemhaal, op ons tande byt en ons oë en hart op die teks toespits – en sê wat ons sien.
Ons sien ’n mens wat al lelik deur die lewe verskree en verskop is, wat wil raad gee. Hy wil sy hoorders leer dat die lewe dikwels nie regverdig is nie en nie sonder meer verloop soos hulle gereken het dit sou nie. Dat sterre in die oë vinniger verskiet as wat hulle moet. Hy gee toe dat jonkheid ’n gawe is, maar voeg by dat dit ook ’n enorme uitdaging is. Miskien is daar hoop, sê hy. Miskien.
Dit is om al hierdie redes dat hy, die swaarsugtende skrywer, wil perspektief gee. Hy is huiwerig – sy raad is die ene “maar” en “miskien” – en dit kom voor asof hy uit persoonlike ondervinding praat. Keer op keer kies hy vir die sagter moontlikheid, dié van niekonfrontasie, akkommodering, van sakke vol geduld. Deurentyd troos hy, bemoedig, beduie hy na moontlike hoop.
As jy, siniese leser, dit kan regkry om hierdeur te worstel, kom jy straks agter dat jy emmers vol deurdagte raad gekry het. Jy kan dus nou maar glimlag – dié klaaglied is eintlik ’n liefdeslied. Dit is genadewoorde.
Here, U genade verras ons gereeld! Dankie vir dié gelouterde skat in u Woord.
Barend Vos