Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Lewenslied

Lees Psalm 30.

Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer (v 6).

Dit is die lewe, nè? Só speel dit voor ons af, en rondom ons en meestal ook binne-in ons: nou blydskap, netnou trane. Ná die bloedige veldslag blom die rooi papawers. Daar skuif donker wol­ke voor die helder son in. Gister het ons ’n kind begrawe, vandag vier ons ’n ou mens se verjaardag.

Jy moet fiks wees vir dié lewe. Op jou tone. Weerbaar. Op jou hoede.

Gelukkig, sê die psalmdigter, gelukkig is God daar. Hy is die Gewer van hierdie lewe. Hy is die Een wat die slegte dinge om­keer, wat vir jou ’n pad deur die woestyn skraap. Wat jou op ’n hoë berg bring.

Dié psalm is vir Hom geskryf, want sy mense het vir Hom ’n tempel gebou. By Hom het hulle tuisgekom. Daarom kan hulle sing en dans. Hy het hul rouklere uitgetrek en vir hulle feesklere aangetrek.

Ja, goddank vir God. Ons uitasemlewe word deurspek met sy ingrype. Wanneer ons op daardie hoë berg staan, kyk ons terug op die woestynpad waarlangs ons gekom het en ons verwonder ons oor die tallose plekke waar ons eens gesit het, daardie dae toe ons nie geweet het waarheen nóú nie. Tot ons later onwillig opgestaan en blindelings ’n koers ingeslaan het.

Dit is eers nou, veel later, dat ons die hand sien wat ons destyds opgehelp het, wat ons gelei het. Dat ons die arms voel wat ons heel­tyd gedra het, die wind wat gereeld aan ons nuwe asem gegee het.

Dit is eers nou dat ons weet daar is volop rede om fees te vier, om te jubel: O my siel daar’s ryke stof!

Ek prys U, Heer, met blye galme! Ek loof u trou, u goedheid sonder einde.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.